“Sien jy? Daar strek die bloekom die hemele in,” beduie Otto Wipplinger in die rigting van die Woodbush-boomtuin, soos die kraai vlieg sowat 700m suidwes van waar ons langs ’n knetterende kampvuur buite die Woodbush-hut staan. Die bloekom waarna hy wys, is die hoogste aangeplante boom in die wêreld, en hy staan hiér, in Magoebaskloof.
Nadat mededingers in Tanzanië en Nieu-Seeland op die titel aanspraak gemaak het, is dié bobaas-bloekom in November laasjaar wéér gemeet en teen 83,7m hoog bly hy koning.
Otto is ’n berggids en toerleier en hy begelei ’n groep hoërskoolkinders op ’n driedagstaptog vir die President’s Award, ’n moderne soort veldskool wat jongmense se uithouvermoë toets. Die jongklomp kry dan medaljes.
“Wat’s óns beloning?” skerts my man, Hancu, terwyl ek my splinternuwe stapstewels uittrek. Ek en…
