REISJOERNAAL Wanneer die vliegtuig begin daal, trek die wolke onder oop. Sneeu lê op bergpieke, woude woel in klowe af en water blink oral. Hierdie is die Tierra del Fuegoeilandgroep in Argentinië aan die suidelike punt van Suid-Amerika. ’n Nuwe wêreld.
Ek en Guts Swanepoel kyk na mekaar. Dit voel nog onwerklik om op pad te wees na Antarktika. Hy dra nog ’n kortbroek en vellies. Eergister het hy in Kasane, Botswana, wakker geword, en ek in Kaapstad. Ons het mekaar in Johannesburg ontmoet, en daarvandaan gevlieg na Doha in die Midde-Ooste, toe na São Paolo in Brasilië, en daarvandaan na Buenos Aires, die hoofstad van Argentinië.
Gisteraand het ons daar oornag, vlugvoos (maar nie só moeg dat ons nie eers die beroemde steak op die proef gestel het nie!),…