THE TROUT POD, BO-OLIFANTSRIVIER
Daar is slegs een pad na die Witzenbergvallei bo Ceres, en aan sy heel verste punt sal jy The Trout Pod aantref, ’n off-the-grid wegkruipplek aan die bolope van die Olifantsrivier. Dié rivier word verder stroomaf wyer, en loop verby Citrusdal tot in die Clanwilliamdam, maar hier bo is die stroom nog vinnig, silwerskoon en propvol bruinforel. Dié naweekplek is heeltemal afgesluit van die beskawing en omring deur berge: Na die weste lê die Groot-Winterhoek-wildernisgebied, ten ooste die Koue Bokkeveld, in die suide die Witzenberg en noord die Sederberg. Dis net jy, die voëls en ’n private stuk rivieroewer.
’n Mens kan jou in die stookbad lawe, op die dek dagdroom met ’n leesboek op die skoot, een van die voetpaaie deur die ongelooflike rotsformasies veld-in…
