By Idees gaan alles daaroor om jou wêreld mooi te MAAK. Met hope kreatiewe inspirasie, vars idees, maklike projekte en stap-vir-stap-aanwysings is hierdie die moet-hê-gids vir handwerkers, naaldwerkers, makers, kokke en selfdoen-huismooimakers.
KONTAK MY BY terena@ideasfactory.co.za ✽ instagram.com/terenaleroux Die mistige Kaapse strate was vanoggend soos 'n sprokieswêreld, met die lug wasig-wit en die boomtakke wat al hoe ligter word boontoe. Geen teken van die see nie. Net die mishoring om mens te herinner daar is rotse en water naby. Regte sopweer dus. En kerrie-weer! Hoe kies mens jou kos vir die winter as daar net een uitgawe is om ons warm te hou in die koue? Wie sê ons móét kies as ons albei kan hê? So hier is ons nou met albei en boonop kaaskoek ook vir 'n soetigheidjie. En net so het dit gegaan met die beplanning vir ons naaldwerkseksie. Is dit die gebreide trui of die hekeltrui? Borduur ons 'n kombers of 'n hemp? Maak ons 'n rok of…
Die professionele sjef Paula Nel is hopeloos te diskreet om uit te lap wie haar bekende kliënte is, maar onder hulle tel van die wêreld se voorste media-, musiek- en rolprentmense. Paula bring tot drie maande op 'n slag op haar grootste kliënt se luukse seiljag deur terwyl hulle tussen hawens soos Miami en Monaco vaar en sy en haar span uitgebreide spyskaarte in die skeepskombuis optower. Wanneer sy nie aan innoverende maniere dink om haar kliënte se gourmet-drome te bewaarheid nie, is sy immer haar volgende avontuur aan die beplan. 'Ek kry elke paar maande 'n maand of twee af. Dit gee my genoeg tyd om 'n paar reise in te werk voor ek huis toe kom om saam met familie en vriende uit te span,' sê Paula, wat…
KAMER IN 'N HOUTHUIS Daar is net iets romanties aan 'n houthuis, veral een met 'n groot venster soos hier wat uitkyk buitentoe. Die plafon en mure beklee met donker hout en die een klipmuur staan sterk uit teen die wit houtvloer. 'n Verweerde ou Persiese mat sorg vir warmte onder jou voete. Die industriële voorkoms van die koperpypligte word versag deur die spierwit beddegoed. Speel rond met 'n lekker dik duvet en kombers asook groot los kussings om jou warm te hou in die winter. Die houttafel en bedkassies van growwe hout pas in by die houthuis se dekor. Die Mexikaanse-styl stofie is ideaal om die groot vertrek warm te hou; die klei van die kaggel behou die hitte lank nadat die vuur uitgebrand het. OOP KAGGEL VIR DIE…
jou lewe Hier kom anderdag 'n pakkie van my pa se susterskind aan. 'n Vergeelde dagboek van my oupa Bokkie disintegreer omslagloos. Dit is 104 jaar oud. Die rugkant is met gare geheg. Dit bevat ook 'n klompie foto's en poskaarte. My pa se familiegeskiedenis op die diamantdelwerye van die distrik Lichtenburg in 'n koerier-plastieksak. Dit vertel ook die storie agter die blink diamante van die 1920-diamantstormloop, wat baie verryk het maar so baie harte ook gebreek het. In each gem unearthed, a story of might, In diamonds, the miners' plight. – Anoniem In die sak was 'n foto van my pa as seuntjie aan die Laerskool Bakerville. Dit het my teruggeneem na die keer in die tagtigs toe hy my met sy olyfgroen Granada deur die delwerye van Lichtenburg…
naaldwerk & handwerk GEBORDUURDE POSKAARTE MOEILIKHEIDSGRAAD: maklik BORDUURTYD: 6-7 uur JY BENODIG ♥ ou swart-en-wit poskaarte of ander prente op materiaal gedruk ♥ borduurgare in die kleure van jou keuse ♥ borduurnaald ♥ borduurring ♥ skerp skêrtjie BORDUURSTEKE GEBRUIK Verskillende borduursteke kan gebruik word om kleur en 'n prettige, kreatiewe element aan jou prent te gee. 1 In die prent van die seuntjie het ons boeljonknooprose, Franse knopies en madeliefiesteek vir die blomruiker gebruik en stamsteek vir die stingels. Sy hoed en broek is in agtersteek geborduur en sy hemp met 'n voorsteek. Die hemp se sak is met satynsteek gewerk. 2 In die prent van die twee dogtertjies is die oranje kraag met satynsteek gewerk en die knope met Franse knopies. Die strik in die hare is met agtersteek gedoen.…
✽ As kind het ek van my gelukkigste tye saam met my ouma Edna Holst beleef. My ouma en oupa het in die pragtige dorpie Hogsback in die Oos-Kaap gewoon en ons het dikwels oor naweke en met vakansies daar gaan kuier. Hulle het vir baie jare die hotel Arminel op die dorp bestuur en my ouma was verantwoordelik vir die lekkernye wat vir die middagtee bedien is, soos dié gemmerkoekies. ✽ In haar later jare het Ouma die klein poskantoor op Hogsback bestuur. Ons het dikwels briewe vir mekaar geskryf; ek het nog van die briewe en lees dit steeds van tyd tot tyd. Ek kan dan nie anders as om te glimlag nie. ✽ My ouma was baie lief vir brei en het my klein-klein geleer brei. Dis…