kom ons vergeet vir ’n oomblik van pres. Jacob Zuma en die Gupta-Nkandla-ontheffing-gemors waarin hy is. Terwyl ons aandag op dié sepie was, is ’n klompie interessante syfers bekendgemaak.
’n Kykie na die JSE, byvoorbeeld, het my minder bedruk oor die toestand van die wêreld laat voel. Die Indeks van Alle Aandele (Alsi) was in die 12 maande tot einde Februarie slegs 3,9% laer; oor 36 maande geneem is die indeks 36% sterker. Hokaai, sê Geoff Blount, besturende direkteur van BayHill Capital, vandeesweek. As jy Naspers* en SABMiller uithaal (saam maak hulle sowat 25% van die indeks uit), was die Alsi nagenoeg 11% swakker in die 12 maande tot einde Februarie en “verberg dit die ernstige beermark waarin die res van die JSE is”, sê Blount. Oor 36 maande het…
