nou wag ons, wéér, op politici en agbare mans en vroue wat hulle as leiers voordoen om óns, Suid-Afrikaners, bo hul eie eiebelang en gierigheid te kies. Hulle doen dit selde.
Dié keer wag ons dat Baleka Mbete, speaker van die nasionale vergadering, oor die lot van die jongste mosie van wantroue in die president besluit; ’n besluit wat waarskynlik sterk beïnvloed sal word deur die ANC se beleidskonferensie, wat einde Junie gehou word (ná die ter perse gaan van hierdie uitgawe van finweek).
Die konferensie sal die eerste platform wees waar die slagordes vir die ANC-faksies opgestel sal word. Leiersambisies sal onvermydelik die swaarste weeg.
Lindiwe Sisulu, ANC-swaargewig, het voor die geleentheid reeds gemaan dat die konferensie “nie as ’n soort faksieoorlog moet dien nie, pleks van om die…
