Die aanhef van Suid-Afrika se Grondwet begin nie met “Die regering sal” nie. Dit begin met “Ons, die mense van Suid-Afrika,” het hoofregter Mogoeng Mogoeng vroeër vandeesmaand in ’n openbare lesing by Tempel Israel in Hillbrow gepredik.
“Dit is julle verantwoordelikheid,” het hy gesê, om oplossings te identifiseer vir die talle uitdagings wat Suid-Afrika in die gesig staar, soos onder meer rassisme, korrupsie, die groot persentasie Suid-Afrikaners buite die hoofstroom-ekonomie, en die grondkwessie.
“Die oplossings gaan nie noodwendig van die regering af kom nie; hulle het julle insette nodig om met ’n werkbare oplossing vorendag te kom om die probleme uit te wis wat ons land te lank al beduiwel,” het Mogoeng gesê. “Kom ons wees nie so lui dat ons ons denke, ons verantwoordelikhede, aan ander mense uitkontrakteer nie.”…
