gedurende ’n stortvloed nuus oor die politiek, korrupsie en die sukkelende ekonomie laat verlede jaar is ’n belangrike gebeurtenis grootliks oor die hoof gesien – die bekendstelling van Suid-Afrika se derde infrastruktuurverslag.
Die jammerlike bevindinge deur die Suid- Afrikaanse Instituut vir Siviele Ingenieurs (SAICE) het getoon dat die land se kerninfrastruktuur – insluitend vervoer, elektrisiteit, watertoevoer, die onderwys en gesondheid – die risiko loop om ineen te stort.
Swak instandhouding en soms skreiende verwaarlosing het die veerkragtigheid van bestaande infrastruktuur ondermyn, terwyl swak bestuur, beplanning en dataversameling, tesame met ’n al hoe nypender tekort aan geskoolde ingenieurs in die openbare sektor bydraende faktore was, aldus die instituut.
Die verslag het Suid-Afrika ’n algehele gradering van D+ gegee vergeleke met C- toe die vorige verslag in 2011 uitgereik is, en gewaarsku…
