Die oerwoud is ’n raserige plek. Blaffende honde, gillende Kawas wat Ducatis en Katanas dice, die piep-piep en doefdafpffftsk van die vullislorrie, die sielsteistering van klein Lisa langsaan se klavierlesse, en natuurlik alarms wat tydig en ontydig koggel en kerm en om aandag skreeu. Dit alles teen ’n konstante agtergrondgedruis van ’n duisend onsigbare karre, lorries, vliegtuie, masjiene en luidsprekers wat enigiets van Mafikizolo tot Kurt Darren uitbasuin.
Kollektief vloei hierdie geraas saam tot die rustelose, polsende hartklop van Die Dier. Dag en nag dreun dit en verdoof ons tot ’n toestand waar stilte hoegenaamd nie meer bestaan nie.
Sulke tye sê mense mos hulle verlang na die stilte van die veld. Maar eintlik is dit nie waar nie, want ook die veld is nooit stil nie. Die natuur se…
