Gedurende enige rit op die lang paaie deur Suid-Afrika is daar ’n kans dat ’n mens hulle sal teëkom. Met ’n klomp kopvere wat kiertsregop staan, ’n uitsteekstert en lang bene wat onophoudelik heen en weer stap, is hulle onmiskenbaar – sekretarisvoëls.
Hierdie ikoniese voëls was eens volop en is gereeld dwarsoor die land opgemerk, maar hulle is deesdae skaars. Oor die afgelope 30 jaar het hul getalle regoor Afrika dramaties verminder en hulle word tans as bedreig beskou (BirdLife International, 2018). Die redes hiervoor is uiteenlopend en sluit ’n reeks moontlikhede in. Grootskaalse veranderinge het die afgelope eeu in hul grasveldhabitat plaasgevind, waaronder die uitbreiding van behuising, ander ontwikkelings en boerderypraktyke. Hierdie veranderinge het gevare meegebring soos kraglyne, windturbines en heinings wat bekende oorsake van sekretarisvoëlsterftes is. Gepaardgaande praktyke…
